landkraken in Zuid Afrika

  landkraken in Zuid Afrika


bron: http://news24.co.za/Beeld/Nuus/0,1776,3-62_880855,00.html

Beeld, Johannesburg

07/07/2000

Boere in KZN ‘loop deur soos in Zim’ Dries Liebenberg

KwaDukuza. – Plaasbesettings “soortgelyk aan dié in Zimbabwe” is al jare lank in die stilligheid in Suid- Afrika aan die gebeur, het ‘n boer van die KwaZulu-Natalse noordkus gister aan die provinsie se LUR vir landbou gesê.

Mnr. Narend Singh het die gebied saam met amptenare van die depar temente van landbou en grondsake en senior polisie-offisiere besoek ná berigte eergister dat meer as sestig plase in die omgewing al vir langer as tien jaar deur duisende plakkers beset word.

Verskeie bekommerde groot bankinstellings het hom gebel om navraag te doen oor verwysings na “plaasinvalle soos in Zimbabwe”, het Singh gesê. Hy het ontken dat daar onlangse plaasinvalle was en dit bestempel as jarelange indring ing van produktiewe landbougrond.

Boere van Nonoti-Wes en Mangete in die omgewing het egter vertel van dreigemente en dat groente-oeste gesteel en suikerrietlande aan die brand gesteek word. Tientalle boere het al hul plase verlaat, terwyl ander al die afgelope vier jaar geen oes te gehad het nie.

Briewe aan presidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki oor die jare het geen resultate opgelewer nie, het boere gesê.

Baie van die onwettige inwoners het tydens die 1994- en 1996-verkiesings weens geweld daarheen gevlug.

Boere sowel as een van die ‘sogenaamde besetters’, mnr. Lesley Sibiya, het die regering daarvan beskuldig dat hulle in die steek gelaat is.

Me. Pat Dunn van Mangete het aan Singh gesê hy maak die saak te ligtelik af as indringing. “Dit is invalle. Al die eienskappe van die voorvalle in Zimbabwe kry ‘n mens hier ook – intimidasie, brandstigting en plaasmoorde,” het sy gesê.

Meer as 5 000 werkgeleenthede het al verlore gegaan nadat bykans 70% van die 63 plase in die Mangete-omgewing sedert 1996 beset is, het Dunn gesê.

Terwyl mense van alle rasse in die omgewing boer, is daar plakkers wat sê die grond behoort histories aan swart mense. Die grondeisehof hoor die geskil eersdaags aan.

In Nonoti-Wes, waar plakkery in 1987 begin het, word 20 Indiër-boere na bewering geraak.

Beeld