Zuid Afrikaanse landkrakers behalen juridische overwinning

  Zuid Afrikaanse landkrakers behalen juridische overwinning


Bron: Die Burger http://www.news24.co.za/Die_Burger

21/09/2000 22:26

Kritieke hofbevel oor Kaapse plakkers EIE KANTOOR

JOHANNESBURG. – ‘n Groep Kaapse plakkers – en daarmee saam elke plakkersgemeenskap oor die land heen – het gister ‘n belangrike oorwinning in die Konstitusionele Hof behaal deurdat die hof die Wes-Kaapse Premier beveel het om onmiddellik aan hulle ablusiegeriewe, water en waterdigte skuilings te gee.

Die plakkers – in die handel en wandel al bekend as die Irene Grootboom groep, hoewel me. Grootboom en haar gesin intussen die plakkerskamp op die Wallacedene terrein by Kraaifontein verlaat het – het in Mei mondelinge betoog in die Konstitusionele Hof gelewer waarin hulle gevra het dat hul sosiaal-ekonomiese grondwetlike reg op leefbare huisvesting geëerbiedig word.

Die staat het dié aansoek teengestaan, hoofsaaklik omdat dit ‘n presedent sal skep wat die staat (en dus die belastingbetaler) miljarde rande jaarliks gaan kos.

Die staat het in Mei nietemin ‘n onderneming aan die hof gegee dat hulle intussen na die behoeftes van die Grootboom groep sou omsien.

Twee weke gelede het die plakkers se regsverteenwoordiger, mnr. J.W. Apollos, in ‘n dringende aansoek by die Konstitusionele Hof gevra dat die Wes-Kaapse Premier en die Oostenberg munisipaliteit verplig word om hul onderneming van Mei gestand te doen en die Grootboom groep uit sy verknorsing te help.

Daar is baie kinders in dié groep en hulle is aanvanklik gedwing om ‘n perseel waar hulle geplak het en waar geriewe was, te verlaat. Hulle het hulle toe op Wallacedene gaan vestig.

Gister het die elf regters van die hof ná mondelinge betoog van adv. Jan Heunis, vir die Premier, en adv. I. Jamie, vir die plakkers, geluister.

Heunis het toegegee dat die plakkers se behoeftes aandag moet kry en sekere voorstelle oor hoe dit gedoen moet word, aan die hof voorgelê. Jamie het nie met al dié voorstelle saamgestem nie. Van die regters was ook bekommerd oor die moontlikheid dat hulle ‘n hofbevel sal maak ten opsigte van plakkers wat nie meer in die Grootboom groep is nie (soos Grootboom self).

Ná ‘n lang verdaging waartydens die regters in kamers met Heunis en Jamie gepraat het, het die regters teen vieruur ten gunste van die plakkers uitspraak gelewer. Die bevel wat uitgereik is, kom daarop neer dat twintig tydelike toilette en tien tydelike krane met lopende water voor 6 Oktober by die Grootboom groep opgerig moet word. Teen 15 Desember moet dit vervang wees deur twintig permanente toilette en twintig permanente krane.

Daarbenewens moet die Premier R200 000 beskikbaar stel om toerusting aan te koop waarmee die plakkers se skuilings waterdig gemaak moet word. Dié werk moet boonop deur die Oostenberg munisiplateit verrig word.

Dit kom daarop neer dat elke gesin in die groep sowat R760 se boutoerusting van die Wes-Kaapse regering moet kry. Dié regering moet, soos dit in die hof gestel is, ” ‘n inkopielys” opstel en aan Apollos voorlê, wat dit verder met die Oostenberg munisipaliteit moet bespreek.

Die regters het beveel dat die Wes-Kaapse regering die hofkoste van die plakkers vir gister se geding betaal. Apollos het die uitspraak as ” ‘n oorwinning vir die regte van alle haweloses in die land” beskryf.

Die Burger